Ek is oningelig, ongekwalifiseerd, waansinnig, uitgekraam, irrelevant en hou boonop van ingelegde avokadopeersop – al die eienskappe wat jy in jou raadgewer soek. Maak dus nou die punt onderaan jou vraagteken deur eenvoudig jou worsteling aan my te stel – ek diskrimineer nie teen strooimeisies of yskaste nie en sal graag raattt gee.
( Klik hier om uit te vind waar dit alles begin het)






18 Kommentaar
Januarie 14, 2007 at 6:55 nm
Og dingetjie ek het ‘n probleem. En ek is so bly jy het nou hierdie webtuiste. Waarop jy mense met hulle probleme kan help dis goed so want almal het mos maar probleme. Ag dingetjie my vorige kêrel Steve wil my terughê. Maar ek weet nie lekker hoe om te maak nie en hier is my probleem my skat hy wil hê ek moet in die aande soos daai rusbank op KykNet se kussings aantrek. Soos wat hulle op die tellyvisie wys. Hy is ‘n kussingman.
Ai en ek is nog so vreeslik lief vir hom maar ek wil nie soos ‘n kussing aantrek nie. Og tog. Is dit Bybels? Ek is radeloos maar nog so lief vir hom asseblief help my.
Groete
Lanfertitus
Januarie 15, 2007 at 1:43 nm
My hond (wat ek nie meer het nie) mock my in my drome elke aand. As ek haar probeer stil maak, piepie sy teen my. Ek is raadop. Is dit dalk omdat ek sokkies dra as ek slaap?
Ek is nou bang om my oge toe te maak saans, ek wil nie meer sien hoe sy soos Alice se kat vir my giggel nie. Ek is nou behoorlik… ag, ek wil dit nou nie uiter nie, maar GATVOL. Verskoon asseblief my kru taal. Ek vloek nie gewoonlik nie.
Dankie byvoorbaat vir jou raad.
Bespot
Januarie 15, 2007 at 5:16 nm
Groteske Lanfertiet,
Eerstens wil ek jou baie ernstig waarsku: as jy op enige stadium voel jy wil vir Steve bederf met `n romantiese briefie – moet dit liewer bo, langs of onder géén omstandighede doen nie. Kry eers matriek agter jou naam.
Wat jou kussing-kwessie aanbetref – ek sal aanbeveel jy gaan neem vir so vyf maande buikdans-lesse (verkieslik op `n plattelandse dorpie). Jy sal egter moet inskryf onder `n skuilnaam, aangesien hulle nie mans aanvaar by sulke skole nie – nie eers as hulle homoseksueel is nie. By aanvangs van die lesse sal jy hulle maar moet oorweldig met jou vlyende sjarme (sodat hulle jou nie daar uitsmyt nie). Doen byvoorbeeld moeite en vind voor die tyd uit hoeveel leraars daar by jou betrokke buikdansskool is. Koop dan vir elkeen `n mandjie getooi in kleurryke bloemistelinte en kraakvars piesangs en servette wat jy dan by die eerste les (which is more) aan hulle skenk. Moet liefs nie ‘n onderrok, hoofmeisie-bordjie of `n t-hemp met die woorde “I like’em perky” op dra nie.
Sit al jou energie in vir hierdie vyf maande sodat jy `n goeie buikdanser sal wees teen die einde daarvan. Volg ook `n gesonde(rige) eetplan, byvoorbeeld eet net toiletpapier met laventel-prentjies op en skakel liefs dié met dieretuin-prentjies of handelsmerke op uit. As hierdie raattt nie die ding doen en jou `n natuulike kussing-afronding gee nie, Lanfertitus, moet jy maar terugkom na my toe. Dan probeer ons iets anders (of iets).
Onthou net altyd: `n moeë vark is nié `n kat met handskoene en amandeloë nie.
Baie ster(k)te word jou toegewens.
raatttgee-groe(n)te,
Ruzelda
Januarie 15, 2007 at 6:23 nm
Benullose Bes pot,
Laat verander jou naam.
Vriendelike raatttgee-groete,
Ruzelda
Januarie 18, 2007 at 6:23 nm
Beste Ruzelda
Ek sukkel nou al vir ‘n geruime tydjie met ‘n probleem: hangoortreksels. Ek kan nie ophou om die goed (kompleet met lintrosies) te hekel nie. Dis so aanloklik – die sagte sy, die iterasie van penbewegings, die hekelbord…om nie eers te praat van die genoegdoening as ek dit speels oor ‘n niksvermoedende koffietafel trek nie.
Dis besig om al my tyd in beslag te neem. Wat staan my te doen?
Januarie 19, 2007 at 6:10 nm
Wat ‘n aaklige sitjoe-hasie wat jy jou in bevind,‘n Haas.
Ek het, nadat jy jou worsteling aan my gestel het, gou ‘n kursus gaan bywoon in Tukai (Tanzanië) aangaande rassediskriminasie, hedendaagse goeie maniere en hangeroortreksel-obsessies (aangebied deur ‘n substandaard polonie).
Jy sal nie glo hoeveel mense al deur dieselfde probleem as jy is nie, ‘n Haas. Ek het baie goeie nuus vir jou: dit kan alles tot ‘n skielike einde gebring word deur net een maklike stap te volg – gaan vir hipnoterapie. Hulle sal jou onder hipnose oortuig daarvan dat hangeroortreksels jou gaan ontvoer met ‘n tuinvurk en saans gekodeerde inligting oor jou konynlewe sal uitsaai oor die 7uur nuus. Jy sal dan paranoïes daarna uitsien. Jy sal egter baie meer tyd op hande hê, aangesien jy heeldag in jou kamer (kompleet met gepanserde mure) gaan deurbring. O, die goeie tyding!
Ek is saam jou opgewonde vir hierdie nuwe stukkie hoop wat die polonie-navorsing jou bied. Vir meer inligting, loer hier: [ ]
Sweef soos ‘n arend,
Ruzelda
Maart 24, 2007 at 2:10 nm
Beste Ruzelda
My kamer is deurmekaar.
Groetnis
Johan
Maart 24, 2007 at 3:34 nm
Beste Johan
Jou kamer is deurmekaar.
Groetnis
Ruzelda
Maart 24, 2007 at 11:34 nm
Beste Ruzelda
My kamer is nog steeds deurmekaar.
Groetnis
Johan
Maart 27, 2007 at 5:00 nm
Beste Johan
Feite.
Groete vir die kinders
Ruzelda
April 17, 2007 at 11:31 nm
Beste Ruzelda
Ek soek inligting oor manlike subjektiwiteit. Wat staan my te doen?
Groetnis
Johan
April 20, 2007 at 4:03 nm
Beter Johan,
Dis bloot ‘n gerug – daar bestaan nie so iets nie. (Dis soortgelyk aan die keiser se kleed.)
Groetnis
Ruzelda
April 25, 2007 at 9:12 nm
Beste Ruzelda
Een van my baie goeie vriendinne wil nie meer blog nie. Wat staan haar te doen?
Groetnis
Johan
Mei 3, 2007 at 1:13 vm
[kriek kriek]
[eggo]
[tolbos]
Junie 18, 2007 at 10:27 vm
Spraakloos…
Junie 18, 2007 at 1:14 nm
Steekproefloos, eerder.
November 30, 2007 at 12:39 vm
as jy nie nou dadelik begin blog nie, gaan johannes_11 jou onterf.
December 19, 2007 at 12:09 vm
ok, that’s it. ons is nie meer blogmaatjies nie.