Vandag het ek gestort. Meer beduidend: vandag het ek uit die stort geklim nadat ek gestort het en in ‘n by getrap. Of ‘n badkamervloer ‘n by se natuurlike habitat is, kan ek nie mooi onthou van skool-Biologie nie, maar dit het my uiteraard steeds gesteek (die by, nou). Ek is laas deur ‘n by gesteek toe ek nog ‘n baie klein dogtertjie was en het lankal daardie spesifieke pynsensasie vergeet. Daardie dae was ‘n bysteek een van die ergste goed wat met jou kan gebeur (behalwe dat mens se ma kan doodgaan en jy jou albasters kan verloor).
Vanoggend was ek teleurgesteld in my pyndrempel as klein dogtertjie. As strafmaatreël het besluit om nie in trane uit te bars, na my ma te hardloop en paniekbevange en onuitmaakbaar te skree: “’n byyjjitmyggesteeeek!” nie. In stede hiervan het ek eerder gesimpatiseer met die by – hulle gaan mos dood as hulle iemand of iets gesteek het. Ek het eers lank na die angellose dingetjie gestaar en gewonder wat haar laaste wens sou wees. Sy was nie in staat daartoe om ‘n dans uit te voer wat my sou inlig wat dié wens is nie, so ek besluit toe sommer self wat dit is. Terwyl my voet steeds opswel, het ek haar eers buitentoe geneem en vir ‘n laaste keer ‘n roos se tekstuur teen haar wang te voel. Toe weer binnetoe en haar voor ‘n stukkie avokadopeer gehou, maar sy was skynbaar nie honger nie. Hierna het ek haar op haar fluweel-doodsbed (wat ek gou gekonstrueer het) neergelê en dit voor my rekenaarskerm geplaas. Hoe lank dit vat voor ‘n by te sterwe kom nadat dit sy enigste steek uitgesteek het, het ek nie geweet nie. Ek speel toe vir die by ‘n liedjie wat ek gereken het sy sou op doodgaan: Gary Jules se Mad World. Mooi toepaslik en alles. Die reëltjie wat sê “the dreams in which I’m dying are the best I’ve ever had” moes haar bemoedig en gerusstel. Skynbaar het dit haar té gerus gestel, want nadat die liedjie twee keer gespeel het, het die by steeds nie die tydelike met die ewige verwissel nie. Toe besluit ek om Monty Python: And Now for Something Completely Different op te sit. Aanvanklik het ek sleg gevoel oor die onsensitiewe manier wat daar omgegaan word met die dood in die eerste skit (How Not To Be Seen). Toe ‘A Short film Starring a Man With a Tape Recorder up his Nose’ en ‘A Short film Starring a Man With a Tape Recorder up his Brothers’ Nose’ begin het ek egter (tot my skaamte) vergeet van die by en onbedaarlik begin lag en dwarsdeur die res van die 88minute van die film. Ek weet nie gedurende watter deel van Monty Python die by toe heengegaan het nie, maar ek hoop dit was tydens die ‘Killer Joke’-skit en dat sy haarself doodgelag het saam die Duitse soldate.
(N.S – My voet lyk of dit Oedipus s’n kon wees.)






11 Kommentaar
Junie 22, 2007 at 5:51 vm
Ek was bitterlik ongelukkig toe ek deur ‘n by gesteek is toe ek 5 jaar oud was, het hom gevang en in my hand rondgedra. My ma vertel dat ek aan haar die volgende vertel het (in trane): Maja het my gebyt!!!!!! Ekke het haar niks gedoen nie!!!!!
Junie 22, 2007 at 6:10 vm
Seerste wat ‘n by my ooit gesteek het was uit suiwer spite omdat ek daar was om te weet hierdie by kan nie boomklim nie. Die by het uit die bougainvillea waaronderdeur ek toe nou juis op die tragiese moment stap geval en net mooi agter my oor ingeval en my gelooi. Ek bedoel, as dit nie vir my was nie kon die by op die grond val en seerkry! Die dankbaarheidsdrempel verskil lyk my van spesie tot spesie. Ek hoop jou by neem dankbare gedagtes van jou in die hiernamaals in…
Junie 23, 2007 at 3:26 nm
Ek is seker die by het dit baie waardeer, en vergewe jou dat jou aandag effens gedwaal het…
My vorige steek was ook onder die voet. Dalk ook maar gelukkig, ek’s nogals allergies. Nou waar is my inspuit naald en adrenalien nou weer, die hoort ek seker byderhand te hou? Mens is duidelik nie eens meer veilig in mens eie badkamer nie!
Junie 24, 2007 at 8:44 nm
julle maak dit vir my uiters moeilik om nie ‘n double entendre kwyt te raak nie
damn hierdie gestekery
Junie 28, 2007 at 1:14 nm
LOL – Maja wat byt
Dis ‘n baie sweet storie. Ek’t ongelukkig nie ‘n sagte plek vir gemene insekte nie, en sou nooit so iets vir ‘n by gedoen het nie – nie eers al het dit my nie gesteek nie!
Julie 24, 2007 at 1:45 nm
HehE!!
Ek het ook al die gevoel vergeet. Ek het nou die dag gedink ‘n by het my gesteek, maar dit was toe actually net ‘n splinter wat onder my vel vasgesit het en toe bietjie begin jik het..
ai, ons word so vinnig groot!
Augustus 31, 2007 at 12:28 vm
I begun to read you, but I couldnt understand nothing…some seconds later I realized: your language is Africaans, isnt it? Africaans sounds very soft to my ears…
Let me translate your page to english with time:)
By the moment, I send you my warm greetings from Chile!
Visit me if you want…take a look…
September 18, 2007 at 10:04 vm
Jy’s skreeusnaaks (nie dat die dood enige iets is om oor te lag nie natuurlik). Het jou ’stekerige’ storie geniet.
Junie 19, 2008 at 1:51 vm
Somehow i missed the point. Probably lost in translation
Anyway … nice blog to visit.
cheers, Words.
Junie 1, 2009 at 10:44 vm
Ek is nuut hier – maar loer weer in
Julie 30, 2009 at 11:32 vm
Om te steek …of nie.