Vir ‘n rukkie in my eerstejaar was daar vreeslik kontroversies daaroor dat baie eerstejaars sekere beurse nie gekry het nie (maar wat aan hulle beloof is deur die Universiteit). Die beurse is om anonieme redes opgehef. Baie van die eerstejaars was diep, diep ongelukkig hieroor – seker met rede – en het onophoudelik daaroor geteem.
Ek het een oggend in hierdie tydperk in HUMARGA (‘n rekenaarsentrum) gewerk toe ek twee meisies hoor kerm omdat een van hulle nie beloon word daarvoor dat sy die kaptein van ‘n jukskei-eerstespan was nie. Die hele storie, besef ek toe, is heeltemal ontmolshoop en skielik ‘moes’ álles ‘n beloning kry - almal het probeer maak of hulle ook ‘n ’slagoffer’ was. Dit was toe vir my besonders sonderling om my in te dink hoe menigte eerstejaar vol selfvertroue by Administrasie A instap en hul (beduidende én onbeduidende) prestasies resiteer en besonderse vermoëns besing met die hoop om ‘n beloninkie te kry.
Vanmiddag, tydens ‘n proses van kamerkatarsis, het ek hierdie herrinnering herontdek: ek het een van die posters gevind wat ek daardie middag 100 van gemaak en opgesit het op Kampus :
Behalwe daarvoor dat ek hope bevrediging daaruit gekry het dat almal gespekuleer het oor wie dit moontlik kon opgesit het (en die onderwerp onder bespreking uiteraard vir ‘n wyle verskuif is), ek heelpad in my vuis kon giggel (maar kamma-kamma saamgespekuleer het) en ál hierdie posters sommer gou-gou afgesteel is, het dit die volgende Die Matie se Gorrelkop gehaal:
Ek het dit oorweeg om weekliks klakkelose, anonieme kommentaar te lewer met hierdie publieke strategie van my, maar dit het toe (om geen spesifieke rede) nie gebeur nie. Dalk kan ek dit hierdie jaar hervat. (Na dié post sal dit egter nie meer so anoniem kan wees nie.)
Terloops – Jana Barnard verjaar vandag. (Sy is nie familie van Saul Barnard nie, alhoewel sy die retoriese vermoëns het om jou anders te kan oortuig.) Ek het die Kasblom se Pollenys Pollenys – vrou haar eie wêreld as geskenk aan haar geskenk. Sy was in vervoering oor al die wonderlike wenke.
Geluk dat jy gebore is, Jana Barnard – ek is trots op jou.








7 Kommentaar
Januarie 17, 2007 at 5:18 vm
En so ontmasker jy jouself. Is dit amper soos om uit die kas te klim?
Januarie 17, 2007 at 11:04 vm
Daai veldtog was legendaries
Januarie 17, 2007 at 6:05 nm
Hmmm…Da Mario, dalk – wie weet. Ek sal nie ‘n outentieke verband tussen die twee kon trek nie, want dit vereis seker dat jy al beide moes ervaar het. Ek dink egter dis eerder soos om pouse te claim dat dit jy was wat die poepkussing strategies oor die wiskunde-meneer se stoel gedrapeer het…Behalwe, nie heeltemal nie. Nee, Da Mario, dis soos niks.
Heheh, Johan, was jy nie ook een van die afstelers nie? Of is ek nou misgegis?
Januarie 17, 2007 at 6:14 nm
Dis moontlik. Alhoewel, ek twyfel of ek dit nog het.
Ek onthou die eerste keer wat jy vir my een gewys het. Ek kon nie lekker my kop daaromtrent kry nie – ek het eers gedink dis ‘n doodernstige storie, hehe…
Januarie 19, 2007 at 5:36 nm
Eish. En toe leer jy my ken.
Januarie 19, 2007 at 9:58 nm
Hoe het die teks van ‘laat registrasie’ op die rooi gekom?
Januarie 20, 2007 at 8:02 vm
Dit was afgeskeur, toe’t ek dit inge-edit. Het gedink dis bietjie onsuksesvol, though, maar dankie – nou’t jy vir my bevestig dat mens wel kan lees wat daar staan.