Januarie 14, 2007...10:16 vm

voorskrif

Jump to Comments

Goeie, goeie, goeie môre gemeente en baie welkom by vanoggend se erediens.

Goeie, goeie, goeie môre, Dominee.

Vir voorsang sing ons die volgende liedere (sou u die volgorde, versies of posisies vergeet, is dit ook aangebring op die afkondigings-pamflet wat u by die deur ontvang het):

Ons begin met lied 292 uit die Liedboek van die Kerk (waarvan ons slegs die eerste vers sing). Ons sing dit sittende. Hierna sing ons lied 414 se eerste en tweede vers (u kan maar sit hiervoor ook), gevolg deur lied 532 se tweede vers waarvoor u sal opstaan. Vir ons verootmoedigende lied, sing ons lied 247 ook staande, maar gebuig teen ‘n hoek van 45°. Ons voorlaaste lied, lied 400,  sing ons terwyl u op u linkersy lê. Ons sing die hele lied met ‘n enkele asem (ek sal die teken gee as u weer kan asem skep vir ons slotlied). Oudergewoonte sing ons die slotlied (lied 269) terwyl u op u regterbeen hop teen ‘n frekwensie van twee hoppe per sekonde (behalwe natuurlik as u nie ‘n regterbeen het nie – dan mag u uself op u regterhand balanseer terwyl u vernuftig opstote in ritme met die res van die kerk doen).

Voor ons begin met die voor-opwarmingsoefeninge voor die voorskrifsang, net een vervroegde afkondiging: Tannie Marie van die plaas Mooikraaltjiesklippebosmosbergedammetjie, dit sal gaaf wees as u vandag bietjie sagter kan sing, asseblief – u oordonder die mans.

(Hierdie inskrywing poog nie om die drywer van ‘n spotlorrie wees nie, maar bepeins eerder bloot sekere gewoontes wat vir my tans ongegrond skyn. Noem dit vervreemding, as u wil. Solank u net leeuloop.)

3 Kommentaar

  • Dis baie lekker! Doen nog ene!

    Laas Sondagaand storm die vooraanstaande dokter van die dorp en sy gesinnetjie uit die kerk, want dis ‘n “jazz konsert”.

    En toe dink ek net dis nogal snaaks dat niemand uitstorm wanneer dit klink soos ‘n klassieke konsert nie.

  • hahaha – teen 45 grade gebuig… hahahaha

    Dis soos as die mense se kleingeld begin klink nes die ds klaar gebid het na die preek…

  • ha! in die gemeente waarheen ek gaan, klink daar niks kleingeld nie. jy hoor net papier frommel.


Leave a Reply