(hierdie inskrywing kom kompleet met apologie aan Johan wat die titel [subliem!] gekraam het)
Ontmoet my winskopie van die dag:
Verby is die tyd van slegte ooghaar-dae: teen slegs R18.95 kan almal nou natuurlike (‘as natural as your own’) en betowerende wimpers hê – of so word daar beweer. Mens kan wel daarmee gaan wandel, jouself uitgee vir Patricia Lewis se dubbel, krapperige truie brei en aardige hoeveelhede kinetiese energie opwek, maar dat mens natuurlik daarmee kan lyk…ek weet darem nie. Ek besef dat natuurlike skoonheid die gesogste is en dat dit dus ‘n goeie oorredingsmeganisme is, maar om te beweer dat hierdie (bykans 3 meter lange) vals hare natuurlik sal voorkom, is verregaande. In elkgeval – as hierdie charming lashes dan nou so op ‘n haar ooreenstem met natuurlike wenkbroue, hoekom sal enigeen dan enigsins hierdie (moer ongemaklike) stukkies plastiek wil aanplak? Besluit maar vir jouself of hierdie wimpers enigsins van ‘n natuurlike aard is :
(Die blomme wat saam my smeul op die foto is baie sjiek plastiekblomme wat, volgens ‘n anonieme familielid, ‘darem baie natuurlik lyk’. Dit het my vreemd genoeg herrinner aan die wimpers)
Van die os op die jas - hier is nog kitswenke oor charming lash:
- Apply first Charming Lash put on glasses. If lash touches, use a shorter length.
- Replace Charming Lash as your own lashes shed. (About 3-4 a week is normal)
- Charming Lash will singe just like your natural lashes.
Agter-op die gombuisie (Natural Eyelash Glue®) staan:
Notice: please use this glue after you would test your allergic reaction before your using.
Hoekom voel ek so vreemde spesmaas opwel dat daar moontlik gebruik gemaak is van dieselfde vertaal-program as wat ek in my vorige inskrywing gebruik het?
Terloops – ek het hierdie Trendy Eyelashes vanmiddag so twee-uur se kant vir vier minute aangehad vir kiekie-doeleindes. My oë voel steeds asof ‘n swerm swaeltjies daar nesgeskrop het.
Voorwaar natural. Voorwaar charming.








10 Kommentaar
Januarie 6, 2007 at 12:43 vm
Smeulend verby. En die blomme bring jou oë uit.
Januarie 6, 2007 at 1:19 vm
So al die tyd het ek nie daardie wimpers nodig gehad nie, maar kon maar net die blomme vashou? Pfffft.
Januarie 6, 2007 at 8:30 vm
Dit lyk beter op jou as op Oprah
Januarie 6, 2007 at 10:05 vm
Haha! Dit moet my verborge talent wees (om beter as Oprah te lyk met goedkoop wimpers). Is daar so kompetisie? Ek sal graag daardie titel wil hê…
Januarie 6, 2007 at 10:22 vm
ek dink haar wimpers was dalk duurder. sal defnitief meer navorsing oor daardie kompetisie moet doen. die lewe sal leeg wees sonder so ‘n kompetisie.
Januarie 6, 2007 at 7:17 nm
Ek reken ‘n mens sou heelwaarskynlik ‘n skoolsaal se vloer kon skoonvee (in ‘n oogwink) met daai monster wimpers…
dis skrikwekkend…
Januarie 7, 2007 at 3:36 nm
Hierdie idee van jou klink na materiaal wat Monty Python in die hande moes kry…Kan jy dink watse briljante parodieë hulle daarmee sou kon maak op skoonheidsprodukte?! Gee ‘n nuwe dimensie aan die begrip ‘modeslaaf’…
Januarie 7, 2007 at 10:59 nm
Beslis! Dis presies die soort absurditeit waarmee hulle ‘n suksesvolle skreeusnaakse skets sou kon saamstel!
Januarie 8, 2007 at 8:52 vm
Twee dinge:
1. Ek sou nogal aanstoot neem met “as natural as your own”!
2. Ek is seker iemand sal dit vir jou kan vleg of ten minste “perm”?
Januarie 9, 2007 at 6:39 vm
Miskien werk dit om blinde boerseuns mee te vang, dan kan hulle HOOR hoe jy jou ogies fladder…