Januarie 2, 2007...10:45 nm

Nomadiese ambisieblokke en noktambules

Jump to Comments

 Hierdie vrou word toe mos genooi na Struisbaai ten einde mee te maak aan ‘n samesyn van vriendelikes so met die koms van nog ‘n jaar. Geselling soos sy is, gaan sy toe soheen – sonder om verder te dink aan die verdere implikasie van karavaanpark-akkomodasie. Die hele kuiertjie was  volkome jolig, veral aangesien sy haarself in sulke aangename geselskap bevind het. Sy het dit selfs as vermaak afgemaak toe sy sien daar is karavane wat met kersliggies omlyn is en het haar kop ritmies geknik toe die bure (of was dit die biere?) walglike countryklanke deur die park laat peul het.

publieke badkamer

Hierdie nimlike vrou het egter ‘n sterk afkeur in ablusieblokke,of dan – soos sy verkies om Freudiaans glippend daarna te verwys – ambisieblokke. Aangesien karavaanparke nolens volens met laasgenoemde kom, was haar lot dus om te knyp (tot die nood so groot sou raak dat hierdie blokke voorkom as ‘n redding eerder as ‘n marteling).

die ideaal

Die eerste dag het goed verloop – sy’t geknyp soos ‘n wafferse krap. Net so skuins voor halftwee daardie volgende oggend, egter, was die nood amptelik een wat nie vra om sonder handskoene aangepak te word nie. Effe oorbluf klim sy toe uit die tent (!) en loop ampertjies na die naaste ambisieblok (genaamd Galjoen).  Sy was egter nog nie heeltemal gereed om openbare geriewe as oorwinnaars te verklaar nie en besluit om nie toe te gee nie. Sy wou eers ‘n parodie te maak van die ‘publiek’ van ‘publieke badkamers’.

 

Dit is dan hoe dit gebeur het dat ‘n meisie een oggend om ongeveer 1:27 vm met ‘n wapperende wit nagrok aan in die amper-volmaan op die strand gehurk gestaan het  terwyl meer as net die golwe nokturne-agtig naby haar enkels gekabbel het. En wat ‘n heilsame nomadiese oomblik was dit nie vir die ambisieblok (onder andere) nie.

hipotetiese voorstelling

Met noeste vlyt het sy haarself ‘n paar uur later daardie oggend in haar volle badkamerglorie gaan oorgee aan toiletdeur-graffiti en noemenswaardige vuil stortvloere van sement – so met die oë toe en die  triomfantlike kopkiekie van haarself al hurkende op die strand in die agterkop.

 

So gepraat van publieke badkamers : ‘n sms wat hierdie verhaal minder omvattend oordra, het net hierna op Johan se selfoonskerm verskyn.  Hy beweer dis sy gunsteling sms van die 2006ste omwenteling n.C om die son.

 

4 Kommentaar

  • (“So gepraat van publieke badkamers: vvvrou is genooi vir ‘n samesyn op Struisbaai. Gesellig soos sy is,gaan sy toe-minwetend dat sy in ‘n karavaanpark gaan moet tuisgaan.Is toe heel jolig en als-sy was selfs vermaak deur bure se Country-treffers. Haar sisteem bots egter woes met ambisieblokke. Sy’t pas besef sy sal ‘n blaaskans moét vat,doodluiters uit die tent(!) geklim en tot by die verlate strand gesuiker, waar sy bevrydend afgeblaas het.Dalk het Jonker ook.”)

  • (siende dat jou binnedoos die kluts kwyt is ;) )

  • mens kry ook porta potties (ek sal vir jou ‘n foto van een op my blog sit).

    ek voel altyd daar’s ‘n rede hoekom die Here plumbing gemaak het.

    met ons stap van die tsitsikamma het ek tydens my draaitjie in die nag gebid dat dit ‘n grassie is wat ek voel.

  • Eish…gelukkig is daar nie grassies op die strand nie. Dalk ongelukkig?

    En dan is daar altyd weejons – ken jy dit? Vir as mens ry en nie lus is om te stop vir ‘n blaaskans nie. Dis die sonderlingste goed op aarde. Weet nie presies hoe dit werk nie, maar ek dink net mans kan dit gebruik, though.


Leave a Reply