O, ja – nog een kitsfeit oor Grootbrak:
Soms is daar oulike tannies soos hierbo met leë kamertjies waarin daar waardevolle fondse vir blogs in bokse lê en wag. Ek het hierdie handleiding (wat mildelik bygedra het tot my uitbreiding van maagspiere) opgespoor in haar gastekamer:
Die leser word geensins in die diepkant gedompel met die aanvangs van hierdie handleiding, Vandag se Sekretaresse, van Joan Strydom (sien kiekie onderaan) nie. Die leser word inteendeel hanteer asof hy/sy ‘n CSV-voorsitter in die vroeg 90′s is wat oplees oor ‘Die New Age’. In die eerste hoofstuk word daar eerstens verduidelik wat ‘n sekretaresse is (onder die hofie “Wie is sy en wat maak sy?”). Tweedens word daar gevra “Waar is sy?” (in hierdie afdeling leer lesers
“Sekretaresses is alomteenwoordig”). Met hierdie voorsprong bo alle ander mense wat nié weet wat ‘n sekretaresse is nie, kan die leser nou dieper delf in die verborge kognise van tiksters.
Hier volg my gunsteling aanhalings:
-So moet die sekretaresse loop:
1. Voete behoort nooit meer as 5cm van mekaar geplaas te word nie, anders lyk dit na die waggeling van ‘n matroos. (Klink vir my of Joan Strydom sekretaresses mer Geisha’s verwar.)
2. Wanneer sekretaresses loop moet hulle die heupe swierig beweeg sonder om dit doelbewus te swaai.
3. Die sekretaresse mag nie met gebuigde knieë loop nie.
4. Sy moet grasieus en ritmies beweeg.
5. Die sekretaresse moet danslesse as ‘n tydverdryf oorweeg.
-Met die koms van die komper is dit te verstane dat sommige sekretaresses wat trots is op hulle spoed en akkuraatheid, wat die firma se liasseerstelsel op die punte van hul vingers ken en ses telefone op een slag kan hanteer, sal voel asof hulle ‘n trappie moet daal. Hulle voel soms bedreig en kom met enige verskoning vorendag, soos “Ek kan nie tik as ek nie die geluid van ‘n tikmasjien kan hoor nie.”
-Baie min mense verstaan rekenaars. Die sekretaresse móét haarself egter speen van papierwerk.
-Nadat daar vir paragrawe aangegaan is oor die verwerwing van eienskappe soos selfvertroue, verantwoordelikheid, vasberadenheid, geduld, takt, lojalitiet en geesdrif, word daar oor betroubaarheid geskryf:
“As jy op skool die een was wat die biblioteek en die snoepie se sleutel gedra het, en jou vriendinne se geheime nougeset bewaar het, hoef ons jou niks hieroor te vertel nie.”
-So moet sekretaresses kommunikeer:
1 Toon met oortuiging werklike belangstelling en beklemtoon jou entoesiasme. Oe en A so af en toe sonder om vals of oordrewe te klink.
2 Neem die ander persoon se eie algemene fisieke en psigiese toestand in ag. Iemand wat nou net van Taiwan af gearriveer het, sal kwalik belang stel om aan ‘n staptoer deel te neem voordat hy geleentheid gehad het om te verklee en met sy omgewing te identifiseer.
3 Die sekretaresse moet gereeld selfondersoek instel, want hinderlike gewoontes, soos om byvoorbeeld met haar oorkrabbetjie te speel, kan die kommunikasieproses heeltmal verongeluk.
-Die sekretaresse mag nooit haar humeur verloor nie en trane is taboe. As jy dit voel aankom, vlug na die kleedkamer.
-Wanneer besoekers in die kantoor wag, moet die sekretaresse dink aan die volgende:
*Blink die koffietafeltjie?
*Is die potplante verskrompel en vol stof?
*Is daar ‘n asbakkie en blink dit saam die tafeltjie?
*Is die voorkant van jou lessenaar toe sodat die besoeker nie verleë hoef te voel oor die ontspanne houding van jou bene nie?
*Is jou teegerei fyn versorgd?
*Sit jy gemaklik?
-Sekretaresses se hare, blink en netjies, mag lekker skoon ruik, maar sy moet liefs die parfuum tuis laat, aangesien dit moontlik nie almal in haar omgewing kan geval nie.
-As twee besoekers gelyk opdaag, moet hulle liefs nie aan mekaar voorstel nie.
-Hoe om ‘n goeie sin vir humor te verwerf:
Maak notas van spotprentjies of nuusberigte wat op jou eie werk of die bestuurder s’n van toepassing is en vertoon dit smaakvol.
-Hier volg my gunsteling;
As sekretaresses kommunikeer, moet hulle die volgende vermy: verkeerde woordorde, anglisismes en sleng of plat woorde, byvoorbeeld “Ek het myself geniet om te kyk na die diere terwyl die bure weg was, want dit was so lekker soos ‘n cracker.”
Hiérdie formidabele vrou het daarin geslaag om vir 112 bladsye lank oor hierdie absolute klaarblykllikheid te skryf sonder om te klink of sy ’n satire maak van sekretaresses (wie weet – moontlik het sy net haar woorde-per-minuut-vernuf probeer verhoog). Hoe dit ookal sy, ek beklee hiermee vir Joan Strydom preuts met die Kasblom & (kie)rankie lukraakheidsprys en wens haar goeie elektroniese liasseertye toe. Mag sy gespeen raak van alle papierwerk.









ses telefone op een slag?!
[kniel in respek]
Gits, dié tante lyk vir my na ‘n drag queen. Ek veronderstel dit is die lipstiffie wat dieselfde lyk as ons eie Evita s’n, en sy kan gerus ‘n paar wenkbroue pluk.
Wat bedoel jy, fluisterstem? Unibrows is woes hot.
nie op chiropractors nie
Hoe lekker het ek en my ouma nou gesit en praat oor haar dae as sekretaresse. Ek is so bietjie bekommerd oor die “ontspanne houding van jou bene”, maar nouja.
Tye het verander… (so biekie)
sekretaresses is alomteenwoordig! en daar dag ek nog altyd dis die Here.
die tannie laat my dink aan die acvv. ek was al twee keer in my lewe so bevoorreg om ‘n vergadering van die acvv by te woon. dis die enigste mense van wie ek weet wat vir mekaar pryse gee vir “die beste tert” sonder om te giggel.
Hoe wil hierdie vrou hê jy moet loop sonder om jou knieë te buig? Veral wanneer jy hardloop om in die badkamer te gaan huil?
Dis presies wat ek ook oor tob. Die idee van sekretaresses met sulke stywe knieë vermaak my egter -veral as die treetjies maar net 5cm uitmekaar geplaas is.
(Praat ons nouweer oor Noh-teater of oor kantoor-etiket?)
ek kan nie oor dit kom nie…ek wil daai erg snaakse dag toe jy die boek gevind het net weer HAVE!!!
Zahnste! Ek is ook nog lánk nie oor dit nie. As ek weer terug is op Stellenbosch, moet ons ‘n tee’tjie HAVE, né? Ek sal die nimlike sekretaresseboek saambring…
Fantastiese post. Die beste wat ek in ‘n lang tyd gelees het.
Die tannie wat julle hier sien is my ma. Die handleiding is deur onder andere Pretoria College gebruig vir hul sekretariele kursus. Sy was n gewilde besigheidsvrou en joernalis wat haar ondervinding en kennis wraggies goed gebruik het om gierige leerders die beroepswereld in te stuur. Dit is net jammer ek het nooit van haar geleer nie…te hardegat. Ek is trots op jou my ma.