December 14, 2006...12:18 vm

studie in mosgroen

Jump to Comments

mos groen Alles was groen in hierdie droom. Alles was boonop dieselfde skakering groen – so mosserige groen (toevallig presies dieselfde groen as die hieropvolgende umlaut op die a: ä). Horlosies, skadu’s, padtekens, eerstejaars, lammers, kokke, mos, wange, gradeplegtighede, snorre,  tee, blindederms, sakdoeke, appels, konstabels, strykysters, ABBA-plate, pupille, verkeersknope, bob martins, Mein Kampf, luidsprekers, frikkadel-toebroodjies en (na alle waarskynlikheid) die hel ook - áls.

Doodluiters drentel ek toe en verken die ruimte van my droom. Die groen weergawe van myself was geensins getraak deur hierdie eentonigheid nie – inteendeel – dit was nie eers vir my vaagweg sonderling nie. Ek onthou wel dat ek een keer gedink het dat dit nogals vervlaks spoggerig sou wees as ek ‘n skaduwee kon hê.

Die motoriese moment van hierdie droom was egter toe ek besluit het om ‘n tog te onderneem vanaf Stellenbosch na Darling - bloot omdat ek daar en dan besef het ek het nie ‘n benul hoe dit daar lyk nie. Ek was aanvanklik oppad biblioteek toe, maar ek draai toe doodluiters om en wandel toe heel kalm in die algemene rigting van Darling. By Wilgenhof het ek egter van aspirasie verander. ’n Hoogs aantreklike, dog uiters vreemde, dog verfrissende balletjie het vanuit die (mosgroen) lug op my neergedaal en reg langs my tot ‘n triomfantlike bons gekom. Wat my so verlief gelaat het van hierdie bolltjie veerkrag, was die anomaliese aard daarvan. Ek het nie in die droom  geweet wat dit was wat dit vir my so mooi gemaak het nie, maar dit was woes wonderskoon teen al die groen (eintlik was dit net ‘n rooi balletjie, maar in die droom had ek geen konsep van kleur nie – alles is mos maar so dieselfde).

Die balletjie het bos gegaan en rondgehop soos ‘n Hestrie Cloete-hasie. Soveel fut het ek nog nooit in ‘n rubberballetjie gesien nie. Heeltemal gehipnotiseer deur absoluut alles van hierdie stuk rubber, het ek het dit gevolg tot by landskappe wat aan my heeltemal onbekend was (daar was onder andere ‘n mosgroen sonneblom-see).

Die (groen) wind het skielik gedraai, en my taalwetenskap-dosent se stem het gevolglik hoorbaar geword (op daardie stadium het dit volkome sin gemaak). Sy het gepraat van sintaksis en dietpe-eerste ontleding. Ek het myself probeer indink hoe dit moet wees dosente veerkragtige rubberballetjies was. Die beeld van ‘n hoppende dosent tussen menigte ywerige (en minder ywerige) studente, was vir my besonders lagwekkend. ‘n Klinkklare, giggelgeel lag het uit my begin peul. Na ‘n rukkie het die sonneblomsee saam my begin lag, wat my uiteraard aangemoedig het om nog meer te lag.  Ek kon nie meer my dosent hoor praat nie.

Hierdie is die tydsgleuf waarin ek wakker word. Die droom was toe eintlik soveel meer as net de-outomatisering van my kleurkonsep: toe ek my oë vakerig ooprem, sit 27 gesigte en lag vir my. Ek herken die gesigte as my mede-taalwetenskap studente.

groen

5 Kommentaar

  • soms kan mens mos mos eet en proe dit beter as groente

  • Ek is besig om stadigaan dom te word. Ek doen die mees onstimulerende werk en ek kan nie meer ernstige goed lees nie. Hierdie werk is besig om my dom te maak. Kom red my asseblief.

  • Ek het vir jou iets gepos, Peertjies. Het jy dit al ontvang?

    Ek hang op die oomblik in Grootbrak. Hierdie is ek wat uit ‘n internetkafee ‘n comment maak op my eie blog…eish, bietjie sad.

    Moet asseblief nie dom raak nie.

  • Baie mooi mosasie. Ek dink jou balletjie is ook oulik. En ag dis seker nie so sad dat jy by ‘n internetkafee comment op jou blog nie – in my opinie is dit nogal hip mense wat by internetkafees hulle digitale verpligtinge nakom asook besorgd is oor hulle pellies se welsyn. Geniet jou Tamaai Hond

  • Phew! [vee tevergeefse angsweet van voorkop af]. Dankie vir die gerusstelling, jakie.


Leave a Reply