December 5, 2006...7:17 nm

(w)eerloos?

Jump to Comments

Een van my talle gunsteling vermaaklikhede op die platteland, is om tweedehandse boeke wat uit die 80’s (of vroër) dateer vir ‘n appel en ‘n ei (eintlik gewoonlik net vir ‘n appel) aan te skaf. Ek lag dan vir ‘n week of meer oor die inhoud daarvan. Hier is my nuutste fonds (sien foto): Pollenys Pollenys – vrou haar eie wêreld, saamgestel deur Berna van Copperhagen en (ironies genoeg) uitgegee deur Daan Retief uitgewers (1980). Tipografiese versorging deur Boer Putter. Ek het dit vanoggend aangekoop teen ‘n spoggerige R2 by die plaaslike tweedehandse meubelmark.

pollenyspollenys.jpg 

Hierdie is ‘n handleiding wat breedvoerig vir vroue verduidelik hoe om die ideale, onderdrukbare, patetiese vrou in haarself te bewerkstellig. Dit bestaan uit 13 aktuele artikels wat kwessies konfronteer soos: hoe om te trou, hoe om ‘n moeder te wees, hoe om verskillende vloeroppervlakke skoon te maak en optimale genot daaruit te put, hoe om paranoïes te wees (want u is mos weerloos), tuinmaak, hoe ‘skoonheidsoperasies’ vir u kan werk, en dan – sou u nie slaag in al bogenoemde nie – hoe om te skei, want u is nie ‘n volwaardige vrou nie en hoort dus nie getroud te wees nie. 

Lize Steyn  gee ‘n hele spul weerloosheidswenke wat heel eksplisiet paranoïa aanmoedig. Hier is ‘n paar wat steeds die opkrul van my mondhoeke bewerkstellig :  

-wees altyd wakker. As u alleen in ‘n verlate straat stap, probeer om dikwels agter u te kyk deur byvoorbeeld te gaan staan en u nek te krap. Kyk dan ook sommer terselfdetyd of iemand u nie agtervolg nie. ‘n Klein sakspieëltjie kan ook vir dié doel gebruik word [om u se nek te krap?]. Stap flink en vinnig. 

-Dra u handsak oor u skouer en knyp dit teen u lyf vas met u elmboog. Dit ontmoedig handsakdiewe.  

-Moenie sommer goedsmoeds die voordeur oopmaak as iemand klop nie. Maak eers seker dat u presies weet wie die persoon aan die ander kant is. As die persoon nie sy identiteit wil verstrek nie, moet dan onder geen omstandighede die deur oopmaak nie. 

 -Lui altyd u eie voordeurklokkie voor u u deur oopsluit. Dit kan moontlike inbrekers sommer vroegtydig die loop laat neem [watter loop; die geweerloop?].  

-Moet nooit los en vas vertel presies wat u bewegings is of waar u woon nie. Bly maar liewer doodstil hieroor

 -‘n Goeie waghond is nog altyd ‘n goeie belegging. Hy kan nie alleen u huis beveilig nie, maar  ook saam met u iewers heen stap [komaan, almal begeer veelsydige beleggings].  

-Sluit altyd u motor. Moet ook nooit pakkies of byvoorbeeld reënjasse in u motor laat lê nie-Sorg dat daar genoeg brandstof in u motor is, anders kan u dalk langs die pad gaan staan. 

-As u saans iewers moet parkeer, soek ‘n verligte kol en maak seker daar’s nie ‘n onwelkome vreemdeling in u motor nie [ ? ! ].

  -Wees versigtig vir iemand wat padaanwysings vra. Sy hoofdoel is waarskynlik iets heel anders as die vra van aanduidings. 

 -Voor u ‘n hysbak binnestap, moet u eers seker maak wie reeds daarbinne is. Indien u reeds binne is en iemand verdags stap in, stap maar liewer dadelik uit.  Dit is ook ‘n goeie gewoonte om te alle tye naby die kontroleknoppies te staan. In geval van nood kan u soveel as moontlik knoppies, asook die alarm druk.

  -Moenie lank staan en wag by ‘n bushalte nie. Maak dan maar liewer gebruik van ‘n taxi. Daardie paar sent meer kan dalk u veiligheid waarborg. 

 -Onthou: almal wat saam u van ‘n bus afklim, is nie noodwendig vriende nie. 

 -Om te maak of u flou is, is dikwels nie so lafhartig nie. Dit kan die aanrander twee keer laat dink voor hy verder met u sukkel.  

-‘n Vrou kan ‘n aanvaller heeltemal onverhoeds vang met ‘n skielike aggressiewe teenaanval.

 -As u aanval, mik om seer te maak. Lang naels kan in die aanvaller se oë gedruk word. ‘n Sambreel se punt, sleutels, ‘n spuitkannetjie met met haarsproei of parfuum en ‘n handsak kan met vrug aangewend word om ‘n aanrander af te skrik. 

 -Maak seker u weet wat u bediende se naam en van is. 

Op die skaal van oorspronklike onbeduidendheid gee ek vir hierdie boek ‘n 8 uit 10. Ek sou dit egter nie vir ernstige voornemende huisvroutjies aanbeveel nie, aangesien dit ongewensde belaglikhede sal meebring.

14 Kommentaar

  • Imagine ‘n doofstom kleuter wat aanklop by iemand wat weier om oop te maak voordat sy presies weet “wie die persoon aan die ander kant is”…

  • Hectic, dude! En verbeel jou jy’s in die BJ en die hyser is, soos, barstenstoevol (jy weet, dosente, tannies met karretjies de lot). Daar staan jy heel sedelik en dring aan daarop dat jy nie gaan inklim voor almal hulself nie eers geïdentifiseer het en vervolgens op jou Gideons Bybeltjie gesweer het dat hulle nie ‘iemand verdags’ is nie. Kan werk, reken?

  • Voorwaar. (My sondagskooltannie sê ook so.)

  • (My sondagskooltannie sê ook so.)

  • Ruzelda, dankie vir hierdie plasing wat ek voorwaar geniet het. Ek is/word egter heeltemal (w)eerloos en verloor die hele draad van die storie as ek ‘n spelfout raaksien. Verskoon dus daarom as ek jou daarop moet wys dat “appel en ui” [sic] se korrekte spelling “appel en ei” is. Ei is die ou Nederlandse vorm vir “eier”. Ek hoop nie hierdie teregwysing verongeluk nou ons kubervriendskap nie.

  • Siestog, Fluisterstem, dan het jy die hele draad verloor…daardie fout het sommer by aanvangs plaasgevind. Ek gaan dit plotseling wysig, dan moet jy dit maar oorlees.

    Baie dankie dat jy my teregwys en sommer etimologies opvoed ook. Voel vry om weer so vermetel te wees, asseblief ;)

  • Ruzelda, ek is bly ons verstaan mekaar. Ek sal weer die plasing lees. Doen so voort.

    Groete,
    Fluisterstem

  • Mmmm…. ek sien dat dit wat die opkrul van die een se mondhoeke veroorsaak, die frons op die voorkop van ‘n ander teweeg bring.

    Dit is per slot van sake nuttige inligting om te weet hoe om verskillende vloeroppervlaktes skoon te maak, hoe om ‘n goeie Moeder te wees (laat Pappa dit maar ook lees) en hoe om tuin te maak.
    Iemand moet dit tog doen, man of vrou is nie ter sake.

    Of beteken hierdie ek is chauvenisties Ruzelda?

  • Pollenys Pollenys meen juis dis net vrouens wat die domestiese appel moet swaai – wat so half ‘n frons op enigiemand se voorkop teweeg moet bring…

  • Da Mario, ek sal nie op grond hiervan ‘n oordeel kan of wil vel oor wat jy is nie. Allermins. Dis die onbeduidendheid waarop die klem geplaas word wat my mondhoeke so perm.

    Die hoofstuk waarin die skoonmaak van oppervlakke voorkom (‘huishou sonder sloof’), neem aan dat die vrou daartoe verdoem is om (onder andere) vloeroppervlakke skoon te maak, skottelgoed te was en boonop mooi te lyk. Hierdie hoofstuk poog dan maniere om dit ‘n genotlike ervaring te maak, uit te wys – aangesien dit dan nou haar lot is, foeitog. Alhoewel dit heel waarskynlik ‘n mooi gebaar is, is die erkentenis daaragter vir my so groots. Dit is ook skreeusnaaks vir my omdat dit die stereotipe van die onderdrukte vrou so mooi eksplisiet saamvat – sonder om te eufemiseer. Laastens (eintlik grotendeels) is dit die kostelike bewoording wat my so kielie. Eerder as om die erkenning van patriargie toe te smeer, word daar baie hard gepoog om so beskaafd moontlik voor te kom – selfs met barbaarse stellings soos “As u aanval, mik om seer te maak. Lang naels kan in die aanvaller se oë gedruk word. ‘n Sambreel se punt, sleutels, ‘n spuitkannetjie met met haarsproei of parfuum en ‘n handsak kan met vrug aangewend word om ‘n aanrander af te skrik”. (Om een of ander rede herrinner dit my aan Monty Python…)

    Sê maar ek het ‘n erg verwronge sin vir humor, maar dit kry die lag lag-lag uit my uit.

  • magtag! ‘n hele twee rand!
    jy’t my geïnspireer om aanhalings uit een van die juwele op my rak te post.

  • die juweel was op my rak en die post op my blog. ek belowe.

  • Ek is geneigd om met jou saam te stem Ruzelda. Jy kan dus sien wat die frons op my voorkop veroorsaak het, dis darem net een te veel om jou vrou te verdoem tot die skoonmaker van jou vloere.
    Lees egter nou die dag ‘n stuk oor sex-education uit die 1950’s. DIT sou nou die lag uit jou gevat het…. dis 10 keer erger!


Leave a Reply