Junie 21, 2007

Ode aan ‘n badkamerby

Vandag het ek gestort. Meer beduidend: vandag het ek uit die stort geklim nadat ek gestort het en in ‘n by getrap. Of ‘n badkamervloer ‘n by se natuurlike habitat is, kan ek nie mooi onthou van skool-Biologie nie, maar dit het my uiteraard steeds gesteek (die by, nou). Ek is laas deur ‘n by gesteek toe ek nog ‘n baie klein dogtertjie was en het lankal daardie spesifieke pynsensasie vergeet. Daardie dae was ‘n bysteek een van die ergste goed wat met jou kan gebeur (behalwe dat mens se ma kan doodgaan en jy jou albasters kan verloor).

 

 Vanoggend was ek teleurgesteld in my pyndrempel as klein dogtertjie. As strafmaatreël het besluit om nie in trane uit te bars, na my ma te hardloop en paniekbevange en onuitmaakbaar te skree: “’n byyjjitmyggesteeeek!” nie. In stede hiervan het ek eerder gesimpatiseer met die by – hulle gaan mos dood as hulle iemand of iets gesteek het. Ek het eers lank na die angellose dingetjie gestaar en gewonder wat haar laaste wens sou wees. Sy was nie in staat daartoe om ‘n dans uit te voer wat my sou inlig wat dié wens is nie, so ek besluit toe sommer self wat dit is. Terwyl my voet steeds opswel, het ek haar eers buitentoe geneem en vir ‘n laaste keer ‘n roos se tekstuur teen haar wang te voel. Toe weer binnetoe en haar voor ‘n stukkie avokadopeer gehou, maar sy was skynbaar nie honger nie.  Hierna het ek haar op haar fluweel-doodsbed (wat ek gou gekonstrueer het) neergelê en dit voor my rekenaarskerm geplaas. Hoe lank dit vat voor ‘n by te sterwe kom nadat dit sy enigste steek uitgesteek het, het ek nie geweet nie. Ek speel toe vir die by ‘n liedjie wat ek gereken het sy sou op doodgaan: Gary Jules se Mad World. Mooi toepaslik en alles. Die reëltjie wat sê “the dreams in which I’m dying are the best I’ve ever had” moes haar bemoedig en gerusstel. Skynbaar het dit haar té gerus gestel, want nadat die liedjie twee keer gespeel het, het die by steeds nie die tydelike met die ewige verwissel nie. Toe besluit ek om Monty Python: And Now for Something Completely Different op te sit. Aanvanklik het ek sleg gevoel oor die onsensitiewe manier wat daar omgegaan word met die dood in die eerste skit (How Not To Be Seen). Toe ‘A Short film Starring a Man With a Tape Recorder up his Nose’ en ‘A Short film Starring a Man With a Tape Recorder up his Brothers’ Nose’ begin het ek egter (tot my skaamte) vergeet van die by en onbedaarlik begin lag en dwarsdeur die res van die 88minute van die film. Ek weet nie gedurende watter deel van Monty Python die by toe heengegaan het nie, maar ek hoop dit was tydens die ‘Killer Joke’-skit en dat sy haarself doodgelag het saam die Duitse soldate.

         meaning of life                        

(N.S – My voet lyk of dit Oedipus s’n kon wees.)

Mei 12, 2007

Beminde

In graad twee het my kêrel een keer vir my ‘n liefdesbrief geskryf. Dit was oorhandig in ‘n koevert beplak met sy mooiste ‘softies’ uit sy sticker-versameling. Die klassifiserende woorde “streng private liefdesbrief” was met ‘n pers semi-droë koki daarop geskryf. Sy beste maatjie, Neelsie, het dit aan my kom oorhandig met die woorde: “Liaan sê jy moet dit alleen in die badkamer gaan lees”.  Ek het daardie brief gekoester, maar was terselfdetyd so skaam daaroor dat ek dit daardie middag in ons HAT by die woord “kardoesbroek” weg gaan steek het. Ek het die dag wat iemand dit sou ontdek, gevrees. Hulle sou my bepaald marginaliseer omdat ek so brief durf ontvang.  Ek het dit egter elke middag skelm gaan herbestudeer, omdat dit aan my ‘n gevoel van euforie verleen het – ek het soos die kosbaarste, mees gewaardeerde meisie gevoel.

So twee weke terug het ek die ‘brief’ herontdek en ek was verstom oor die minimalistiese aard daarvan. Dit is bloot ’n foto van ‘n baba bokser-hondjie wat met patetiese ogies weg van die kamera kyk. Agterop staan agt woorde:

Aan Rozelda

dit is my hond

van liaan

My naam is verkeerd gespel, maar dit het my nooit gepla nie. Ek het dit gekoester omdat hy my belangrik genoeg geag het om vir my ‘n foto van sy hond te gee, omdat dit met onpretensieuse woorde gepaard gegaan het en omdat dit die titel “streng private liefdesbrief” dra. Tot vandag toe nog is dit my gunsteling liefdesbrief.

Maart 23, 2007

Kragtige inspirasie

Dis wat ek elke week by verbyloop oppad vioolles toe. En terug.

monument-ir-die-ongedenkwaardige.jpg

Ek dink ek gaan harder oefen.

Maart 18, 2007

gatslag

- ‘n Freudiaanse perspektief op my voorliefde vir woordeboeke 

So paar jaar gelede was ek in standerd twee. Ek het baie daarvan gehou om met my pienk BMX tussen die heuwels te gaan rondry en myself te verbeel ek is een of ander filantroop wat verlore kinders moet opspoor en red. In my rugsak was daar altyd katjiebotter-toebroodjies om die armsalige, hipotetiese kinders mee te voer.

(Kyk hoe braaf en intimiderend lyk ek op my BMX:

 bmx.jpg )

Soggens moes ek egter die skoene van ‘n gewone skoolkind volstaan (alhoewel ek altyd kaalvoet was). Ek moes al die uitdagings van die deursnit-standerd twee dogter aanvaar, stormloop en oorwin. Ek sou sê dat ek grotendeels hierin geslaag het. Daar is egter enkele gevalle wat ek nie so seker oor is of dit as ‘geslaagd’ beskou kan word nie…

In die daaropvolgende jaar het ons Swellendam toe verhuis. Anders as op Kremetart, was die Engelse klasse op Swellendam in Engels aangebied. Dit was vir my kop moeilik om klein te kry. Juffrou Nel vir ons die opdrag gegee om ‘n opstel getiteld “My hobby” te skryf. Nadat ek uigevind het wat ‘n hobby is, het ek dadelik geweet dat myne fietsry is. Ek het nie geweet wat dit in Engels is nie. Liana van Wyk, my beste vriendin, was ‘n baie groot aanhanger van die intellektualisme. Sy is uiteraard gebruik as die klas se ensiklopidie, sou Juffrou nie aanwesig wees nie. Dit het nie gevoel asof ek ‘n slegte mens is toe ek na Liana draai en die eenvoudige vraag aan haar stel nie: “Wat’s fietsry nouweer in Engels?”. Duidelik was Liana ‘n paar dinge: eerstens was sy heel waarskynlik gefrustreerd met die maklikheidsgraad van die werk waarmee ons besig was en kon geen stimulasie daaruit put nie. Tweedens was sy seker geïrriteerd daarmee dat almal hierdie belaglike goed vir haar vra. Toe sy my egter met ‘n geloofwaardige, komkommerkoel gesig antwoord: “Hmmm…is die nie farting nie?”, het ek nie vir ‘n oomblik gedink dat sy verkeerd kán wees nie. “O, ja, natuurlik! Dankie” het ek gereageer en dadelik begin skryf. Ek wou nie die middag ook nog daaraan werk nie, want ek wou gaan fart.

My hobby

My hobby is farting. I like farting so very much. Every afternoon I go farting on the mountain, in the silent streets and all over the town. Sometimes dogs chase me when I fart in the streets, so I prefer to do mountain farting. I would fart all the time if  I was allowed, but my parents they do not want me to fart when it’s dark. They say it is too dangerous.

My brother is very good with the fart. I would like to fart just like him one day because he can do lots of tricks and he never get hurts. He can jump on his fart while going really fast and over ramps. His goes a lot quicker than mine. Once he told me that he farted so fast that fire came out at the back just like a rocket, but I don’t believe him. He has a big green fart, but my fart is small and pink. I like my fart a lot. I even gave it a name which is Ponkie. I named it Ponkie because it is pink.

Farting is very good for your healthy and I think doctors should tell their patients that they must all do farting, even if it is those little farts you get in the house which doesn’t move. Maybe one day I could win ‘n big farting competition and make other people see how much fun it is. 

Juffrou Nel het nie baie van my gehou nie. Liana het gesê ek moet my nie te veel aan haar steur nie – sy’s sommer neus-in-die-lug. Hierna het sy vir lank gelag en wou nie sê hoekom nie.

Januarie 31, 2007

hulde bleik ook soms

[da] Mario Bros:
 

Da Mario, ek het nie vergeet nie – jou goudvis-gegeurde poeiersop is in die pos (net soos al daardie tjeks). Hierdie is net vir ingeval dit nooit by jou uitkom nie: regte-egte (digitale) goudvissop. (Jy kan kies hoe sterk gegeur jy dit wil hê.)

goudvissop

Lekker, lekker, Da Mario, jy’s so oud :) . Hoop dis ‘n huppelbare dag.

Januarie 20, 2007

Stellenbosch se nonnatjie roep my

My vakansie het die bodem bereik, leeg.  Môre-oggend vroeg vertrek ek terug na daar waar die akkers na benede wandel, sommige wriemelende wesens oor voetoorgange ploeter terwyl nota’s mettertyd een groot varkoor word. Ek sien uit daarna om weer in Victoriastraat te stap en in my mouloosheid te giggel vir eerstejaars wat met hoë hakke probeer klasdraf.  Ek sien uit na uitsien na alles.

Als is gepak. Ek moet nou nog net my studentekaart vind en ook inpak. Haar vakansie is ook leeg.

studentwees is mos pret

(Vir as enigiemand omgee – ek gaan swyg vir ‘n rukkie.)

Januarie 20, 2007

Om te sak met puck

img_1313.JPG

sak

Ek het ander talente.

Januarie 16, 2007

my reg tot roem

Vir ‘n rukkie in my eerstejaar was daar vreeslik kontroversies daaroor dat baie eerstejaars sekere beurse nie gekry het nie (maar wat aan hulle beloof is deur die Universiteit). Die beurse is om anonieme redes opgehef. Baie van die eerstejaars was diep, diep ongelukkig hieroor – seker met rede – en het onophoudelik daaroor geteem.

Ek het een oggend in hierdie tydperk in HUMARGA (‘n rekenaarsentrum) gewerk toe ek twee meisies hoor kerm omdat een van hulle nie beloon word daarvoor dat sy die kaptein van ‘n jukskei-eerstespan was nie. Die hele storie, besef ek toe, is heeltemal ontmolshoop en skielik ‘moes’ álles ‘n beloning kry - almal het probeer maak of hulle ook ‘n ’slagoffer’ was. Dit was toe vir my besonders sonderling om my in te dink hoe menigte eerstejaar vol selfvertroue by Administrasie A instap en hul (beduidende én onbeduidende) prestasies resiteer en besonderse vermoëns besing met die hoop om ‘n beloninkie te kry.

Vanmiddag, tydens ‘n proses van kamerkatarsis, het ek hierdie herrinnering herontdek: ek het een van die posters gevind wat ek daardie middag 100 van gemaak en opgesit het op Kampus : 

hoofmeisie1.jpg

Behalwe daarvoor dat ek hope bevrediging daaruit gekry het dat almal gespekuleer het oor wie dit moontlik kon opgesit het (en die onderwerp onder bespreking uiteraard vir ‘n wyle verskuif is), ek heelpad in my vuis kon giggel (maar kamma-kamma saamgespekuleer het) en ál hierdie posters sommer gou-gou afgesteel is, het dit die volgende Die Matie  se Gorrelkop gehaal:

scan0021.jpg

Ek het dit oorweeg om weekliks klakkelose, anonieme kommentaar te lewer met hierdie publieke strategie van my, maar dit het toe (om geen spesifieke rede) nie gebeur nie. Dalk kan ek dit hierdie jaar hervat. (Na dié post sal dit egter nie meer so anoniem kan wees nie.)

Terloops – Jana Barnard verjaar vandag. (Sy is nie familie van Saul Barnard nie, alhoewel sy die retoriese vermoëns het om jou anders te kan oortuig.) Ek het die Kasblom se Pollenys Pollenys – vrou haar eie wêreld as geskenk aan haar geskenk. Sy was in vervoering oor al die wonderlike wenke.

Geluk dat jy gebore is, Jana Barnard – ek is trots op jou.

Januarie 15, 2007

oordrag

idee.jpg

Waarom ‘n eufemisme maak van toiletpapier? Hier’s ‘n voorstel vir ‘n print wat nié doelloos daarna uitsien nie (ignoreer die rosies, though – ek kon niks anders vind nie).

Januarie 14, 2007

voorskrif

Goeie, goeie, goeie môre gemeente en baie welkom by vanoggend se erediens.

Goeie, goeie, goeie môre, Dominee.

Vir voorsang sing ons die volgende liedere (sou u die volgorde, versies of posisies vergeet, is dit ook aangebring op die afkondigings-pamflet wat u by die deur ontvang het):

Ons begin met lied 292 uit die Liedboek van die Kerk (waarvan ons slegs die eerste vers sing). Ons sing dit sittende. Hierna sing ons lied 414 se eerste en tweede vers (u kan maar sit hiervoor ook), gevolg deur lied 532 se tweede vers waarvoor u sal opstaan. Vir ons verootmoedigende lied, sing ons lied 247 ook staande, maar gebuig teen ‘n hoek van 45°. Ons voorlaaste lied, lied 400,  sing ons terwyl u op u linkersy lê. Ons sing die hele lied met ‘n enkele asem (ek sal die teken gee as u weer kan asem skep vir ons slotlied). Oudergewoonte sing ons die slotlied (lied 269) terwyl u op u regterbeen hop teen ‘n frekwensie van twee hoppe per sekonde (behalwe natuurlik as u nie ‘n regterbeen het nie – dan mag u uself op u regterhand balanseer terwyl u vernuftig opstote in ritme met die res van die kerk doen).

Voor ons begin met die voor-opwarmingsoefeninge voor die voorskrifsang, net een vervroegde afkondiging: Tannie Marie van die plaas Mooikraaltjiesklippebosmosbergedammetjie, dit sal gaaf wees as u vandag bietjie sagter kan sing, asseblief – u oordonder die mans.

(Hierdie inskrywing poog nie om die drywer van ‘n spotlorrie wees nie, maar bepeins eerder bloot sekere gewoontes wat vir my tans ongegrond skyn. Noem dit vervreemding, as u wil. Solank u net leeuloop.)

Januarie 11, 2007

Toonbeeld van nutteloosheid #1

lukraak-165.jpg

Hondjie-prints op toiletpapier

Januarie 9, 2007

en as dit Dinsdag is…

Vanoggend het Anna Morf by my kamer ingehorrel gekom - soos sy elke Dinsdagoggend doen. Sy het vir my ‘n Dinsdagpersent gebring: dit was ‘n pakkie kitssop (‘tasty chicken and papyrus’).  Ek was oorstelp van vreugde. Ek  wou nog altyd ‘n pakkie kits-hoendersop van daardie geur gehad het! Aangesien Anna nooit praat nie, het ek egter nie lekker geweet wat sy wil hê ek moet daarmee doen nie (en die briefie het net gesê “geseënde Dinsdag”).  Toe stap ek maar kombuis toe, sit die ketel aan en gooi die pakkie in ‘n sopkoppie – soos mens soms met hierdie nimlike soppoeier maak.

Tussen stukkies noedels, gelerige poeier, papawers, dollosse en donsveertjies, lê ‘n strokiesprent:

rammelrammelrammeljpg.jpg

rammelaartjie.jpg

bevrore-sop.jpg

Geseënde Dinsdag vir jou ook, Anna Morf (waarookal jy is).  Dis die beste Dinsdagwens wat ek nog ooit gehad het.

Januarie 6, 2007

so natuurlik soos ‘n multiplug wat ‘n graad kraam

(hierdie inskrywing kom kompleet met apologie aan Johan wat die titel [subliem!] gekraam het)

 

Ontmoet my winskopie van die dag:

 betowerende-wimpers.jpg

Verby is die tyd van slegte ooghaar-dae: teen slegs R18.95 kan almal nou natuurlike (‘as natural as your own’) en betowerende wimpers hê – of so word daar beweer.  Mens kan wel daarmee gaan wandel, jouself uitgee vir Patricia Lewis se dubbel, krapperige truie brei en aardige hoeveelhede kinetiese energie opwek, maar dat mens natuurlik daarmee kan lyk…ek weet darem nie. Ek besef dat natuurlike skoonheid die gesogste is en dat dit dus ‘n goeie oorredingsmeganisme is, maar om te beweer dat hierdie (bykans 3 meter lange) vals hare natuurlik sal voorkom, is verregaande.  In elkgeval – as hierdie charming lashes dan nou so op ‘n haar ooreenstem met natuurlike wenkbroue, hoekom sal enigeen dan enigsins hierdie (moer ongemaklike) stukkies plastiek wil aanplak? Besluit maar vir jouself of hierdie wimpers enigsins van ‘n natuurlike aard is :so natuurlik soos u eie

so natuurlik soos uie 

(Die blomme wat saam my smeul op die foto is baie sjiek plastiekblomme wat, volgens ‘n anonieme familielid, ‘darem baie natuurlik lyk’. Dit het my vreemd genoeg herrinner aan die wimpers)

 

Van die os op die jas - hier is nog kitswenke oor charming lash:

  • Apply first Charming Lash put on glasses. If lash touches, use a shorter length.
  • Replace Charming Lash as your own lashes shed. (About 3-4 a week is normal)
  • Charming Lash will singe just like your natural lashes.

Agter-op die gombuisie (Natural Eyelash Glue®) staan:

Notice: please use this glue after you would test your allergic reaction before your using. 

Hoekom voel ek so vreemde spesmaas opwel dat  daar moontlik gebruik gemaak is van dieselfde vertaal-program as wat ek in my vorige inskrywing gebruik het?

 

Terloops – ek het hierdie Trendy Eyelashes vanmiddag so twee-uur se kant vir vier minute aangehad vir kiekie-doeleindes. My oë voel steeds asof ‘n swerm swaeltjies daar nesgeskrop het.

Voorwaar natural. Voorwaar charming.

 

Januarie 3, 2007

“the alleen ware waardevol ding is intuisie” – A. Einstein

Die Universiteit van Stellenbosch se Departement Afrikaans en Nederlands bied ‘n Nagraadse Diploma in Vertaling aan.  Dit is, terloops, tans die enigste instelling in die Wes-Kaap waar ‘n formele kwalifikasie in vertaling en tolking verwerf kan word. Dit beteken dat mens na ‘n minimum van vier jaar eers ‘n behoorlike vertaler kan wees – en dus vervolgens eers behoorlike vertalings kan doen.

Sommige idiote reken egter dat die gesigseinder van kennis oor vertaling nie verbreed hoef te word nie. ’n Digitale program waarin tweetalige woordeboeke geïnternaliseer is kan mos net so goed werk, of hoe? Dis tog eenvoudig – mens voer die dokument in, die program vertaal die dokument woord vir woord volgens die  betroubare woordeboek en, siedaar! Geen tersiêre studie benodig nie.

Nooit vir ‘n oomblik het ek gedink enigiemand kan régtig sulke eenvoudige denke hê nie. Ek het een van hierdie vertalers afgelaai om bietjie te kyk tot watter mate iets ongeslaagd kan wees (hier kan jy dit ook kry, sou jy wou).

Hierdie is die teks wat ek ingevoer het:

Guidelines for translating 

  1. Look up any words you do not understand in a dictionary
  2. Always keep the reader in mind. Will they understand the sense of this sentence? Have I translated it too literally to be understood? The text must not sound like a translation. The reader must think it has been written in their own language, not ‘borrowed’ from somebody else’s!
  3. Never translate word for word. Read the whole page, understand what the writer wants to say. Then write that meaning in the other language. It will often mean turning the order of words round. It might mean using proverbs and sayings, or finding other ways to convey the meaning of the original.
  4. Keep your sentences short and simple. Use words that are easy to understand.
  5. Never rush into print without very, very careful checking and proof reading.

en hierdie is die merkwaardige terugvoer:

Handleidings vir die vertaling van

  1. look op enige woorde u nie verstaan in ‘n woordeboek
  2. always hou die leser in gedagte. sal hulle verstaan die begrip van hierdie sin? het Ek vertaal dit te letterlik om verstaan te word? die teks moet nie klank soos ‘n vertaling. die leser moet dink dit hetgeskrywe in hul eie taal, nie ‘borrowed’ van iemand anders se!
  3. never vertaal woord vir woord. lees die hele bladsy, verstaan wat die skrywer wens om te sê. dan skryf dat betekenis in die ander taal. dit sal dikwels bedoel draai die bestelling van woorde ronde. dit mag bedoel gebruik spreuke en gesegdes, of vind ander maniere om oor te dra die betekenis van die oorspronklike.
  4. keep jou sinne geskiet en eenvoudig. gebruik woorde wat maklik om te verstaan.
  5. never haas binne-in druk sonder baie, baie versigtig toets en bewys lees. 

Beste Groete,

Moroon

Januarie 2, 2007

Nomadiese ambisieblokke en noktambules

 Hierdie vrou word toe mos genooi na Struisbaai ten einde mee te maak aan ‘n samesyn van vriendelikes so met die koms van nog ‘n jaar. Geselling soos sy is, gaan sy toe soheen – sonder om verder te dink aan die verdere implikasie van karavaanpark-akkomodasie. Die hele kuiertjie was  volkome jolig, veral aangesien sy haarself in sulke aangename geselskap bevind het. Sy het dit selfs as vermaak afgemaak toe sy sien daar is karavane wat met kersliggies omlyn is en het haar kop ritmies geknik toe die bure (of was dit die biere?) walglike countryklanke deur die park laat peul het.

publieke badkamer

Hierdie nimlike vrou het egter ‘n sterk afkeur in ablusieblokke,of dan – soos sy verkies om Freudiaans glippend daarna te verwys – ambisieblokke. Aangesien karavaanparke nolens volens met laasgenoemde kom, was haar lot dus om te knyp (tot die nood so groot sou raak dat hierdie blokke voorkom as ‘n redding eerder as ‘n marteling).

die ideaal

Die eerste dag het goed verloop – sy’t geknyp soos ‘n wafferse krap. Net so skuins voor halftwee daardie volgende oggend, egter, was die nood amptelik een wat nie vra om sonder handskoene aangepak te word nie. Effe oorbluf klim sy toe uit die tent (!) en loop ampertjies na die naaste ambisieblok (genaamd Galjoen).  Sy was egter nog nie heeltemal gereed om openbare geriewe as oorwinnaars te verklaar nie en besluit om nie toe te gee nie. Sy wou eers ‘n parodie te maak van die ‘publiek’ van ‘publieke badkamers’.

 

Dit is dan hoe dit gebeur het dat ‘n meisie een oggend om ongeveer 1:27 vm met ‘n wapperende wit nagrok aan in die amper-volmaan op die strand gehurk gestaan het  terwyl meer as net die golwe nokturne-agtig naby haar enkels gekabbel het. En wat ‘n heilsame nomadiese oomblik was dit nie vir die ambisieblok (onder andere) nie.

hipotetiese voorstelling

Met noeste vlyt het sy haarself ‘n paar uur later daardie oggend in haar volle badkamerglorie gaan oorgee aan toiletdeur-graffiti en noemenswaardige vuil stortvloere van sement – so met die oë toe en die  triomfantlike kopkiekie van haarself al hurkende op die strand in die agterkop.

 

So gepraat van publieke badkamers : ‘n sms wat hierdie verhaal minder omvattend oordra, het net hierna op Johan se selfoonskerm verskyn.  Hy beweer dis sy gunsteling sms van die 2006ste omwenteling n.C om die son.