Vandag het ek gestort. Meer beduidend: vandag het ek uit die stort geklim nadat ek gestort het en in ‘n by getrap. Of ‘n badkamervloer ‘n by se natuurlike habitat is, kan ek nie mooi onthou van skool-Biologie nie, maar dit het my uiteraard steeds gesteek (die by, nou). Ek is laas deur ‘n by gesteek toe ek nog ‘n baie klein dogtertjie was en het lankal daardie spesifieke pynsensasie vergeet. Daardie dae was ‘n bysteek een van die ergste goed wat met jou kan gebeur (behalwe dat mens se ma kan doodgaan en jy jou albasters kan verloor).
Vanoggend was ek teleurgesteld in my pyndrempel as klein dogtertjie. As strafmaatreël het besluit om nie in trane uit te bars, na my ma te hardloop en paniekbevange en onuitmaakbaar te skree: “’n byyjjitmyggesteeeek!” nie. In stede hiervan het ek eerder gesimpatiseer met die by – hulle gaan mos dood as hulle iemand of iets gesteek het. Ek het eers lank na die angellose dingetjie gestaar en gewonder wat haar laaste wens sou wees. Sy was nie in staat daartoe om ‘n dans uit te voer wat my sou inlig wat dié wens is nie, so ek besluit toe sommer self wat dit is. Terwyl my voet steeds opswel, het ek haar eers buitentoe geneem en vir ‘n laaste keer ‘n roos se tekstuur teen haar wang te voel. Toe weer binnetoe en haar voor ‘n stukkie avokadopeer gehou, maar sy was skynbaar nie honger nie. Hierna het ek haar op haar fluweel-doodsbed (wat ek gou gekonstrueer het) neergelê en dit voor my rekenaarskerm geplaas. Hoe lank dit vat voor ‘n by te sterwe kom nadat dit sy enigste steek uitgesteek het, het ek nie geweet nie. Ek speel toe vir die by ‘n liedjie wat ek gereken het sy sou op doodgaan: Gary Jules se Mad World. Mooi toepaslik en alles. Die reëltjie wat sê “the dreams in which I’m dying are the best I’ve ever had” moes haar bemoedig en gerusstel. Skynbaar het dit haar té gerus gestel, want nadat die liedjie twee keer gespeel het, het die by steeds nie die tydelike met die ewige verwissel nie. Toe besluit ek om Monty Python: And Now for Something Completely Different op te sit. Aanvanklik het ek sleg gevoel oor die onsensitiewe manier wat daar omgegaan word met die dood in die eerste skit (How Not To Be Seen). Toe ‘A Short film Starring a Man With a Tape Recorder up his Nose’ en ‘A Short film Starring a Man With a Tape Recorder up his Brothers’ Nose’ begin het ek egter (tot my skaamte) vergeet van die by en onbedaarlik begin lag en dwarsdeur die res van die 88minute van die film. Ek weet nie gedurende watter deel van Monty Python die by toe heengegaan het nie, maar ek hoop dit was tydens die ‘Killer Joke’-skit en dat sy haarself doodgelag het saam die Duitse soldate.
(N.S – My voet lyk of dit Oedipus s’n kon wees.)























